
ESEGIËL 37:27-28 NLV
(27) My blyplek sal tussen hulle wees. Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.
(28) Dan, wanneer my blyplek tussen hulle is, sal die nasies besef dat Ek, die Here, Israel vir myself eenkant gesit het as ’n heilige volk.”
2 KORINTIËRS 6:16 NLV
(16) Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Ons is mos die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en rondbeweeg, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”
OPENBARING 21:3-4 NLV
(3) Ek het toe ’n kragtige stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God.
(4) Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het verbygegaan.”
1 JOHANNES 1:1-7 NLV
(1) Die Een wat van die heel begin af bestaan het, is die Een wat ons gehoor en met ons eie oë gesien het. Ons het Hom aandagtig waargeneem, en Hom met ons hande aangeraak. Dit gaan oor die Woord wat lewe gee.
(2) Dié lewe het sigbaar verskyn en ons het dit gesien en getuig daarvan en deel dit aan julle mee – dit is die ewige lewe wat by die Vader was, maar nou aan ons bekendgemaak is.
(3) Ons deel julle mee wat ons gesien en gehoor het sodat julle ook saam met ons daarin kan deel. Ons het saam deel aan die Vader en die Seun, Jesus Christus.
(4) Ons skryf hierdie dinge sodat ons blydskap tot sy volle verwesenliking kan kom.
(5) Dit is dan die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle meedeel: God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in Hom nie.
(6) As ons dan sê dat ons deel het aan Hom, maar in geestelike duisternis leef, lieg ons. Ons optrede weerspieël nie die waarheid nie.
(7) As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van elke sonde.

No Comments