
2 Timótheüs 1:7
Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.
Self-dissipline kom nie van jouself af nie. Dit kom van God af. Ons almal gaan deur oomblikke van twyfel, wanneer die dinge wat ons in glo en weet, waar is, lyk of ons dit vergeet en ons los met meer vrae as antwoorde. Daar is tye in ons lewe wat ons bang is. Daar is tye wat ons na die toekoms kyk en bekommerd raak. Ons kyk na ‘n moeilike situasie en weet nie hoe ons daar deur gaan kom nie.
Maar daar is ‘n manier. As ek en jy magteloos voel oor ons omstandighede, wanneer ons vrees wat voorlê, as ons vasberadenheid nie meer werk nie, is God in staat en gewillig om vir ons die krag te gee wat ons ‘n tekort aan het. Die dapperheid om die vrees in die oë te kyk kom nie van binne af nie, dit kom van God daar bo af.
Die vermoë om aan te gaan as dinge moeilik raak kom van ons vertroue in God, nie van onsself af nie. Die krag om ‘n nuwe gewoonte vol te hou soos gesond eet of oefening, of om ‘n slegte gewoonte of verslawing te breek, dit kom nie van my en jou af nie, maar van die feit dat ons na God toe draai en Hom vra vir krag om ons oortuigings deur te sien.
As jy vandag deur ‘n moeilike tyd gaan, as jy iets in die toekoms sien wat jou bang maak of iets waaroor jy onseker is, draai na Jesus toe en vra hom vir die krag om geloof te hê. Vra Hom om vir jou dapperheid te gee. Vra hom vir moed om jou vrese in die oë te kyk. As jy daarna streef om ‘n nuwe gewoonte aan te pak, of om ‘n slegte gewoonte te breek, vra Hom vir self-dissipline om dit deur te sien en klaar te maak.

No Comments