
Jesaja 26:3
U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is. NLV
Die Afrikaanse Ou Vertaling praat van “volle vrede.”
Het jy vandag volle vrede in jou hart? Ek weet dat my gedagtes partykeer ‘n wil van hul eie het, en dit het alles behalwe vrede. Dit kom voor of ek net nie helder gedink kry nie. Ek dink aan dinge wat dalk kan gebeur. Ek bekommer my oor gevolge van goed wat gebeur het. My verbeelding gaan wild tekere oor allerhande negatiewe moontlikhede. En maak nie saak wat ek doen nie, lyk dit net nie of ek my gedagtes onder beheer kry nie. Ek het net nie die perfekte vrede van God nie. Klink dit bekend?
Die Bybel gee die rede vir hierdie kondisie. Ons het nie volle vrede nie want ons vertrou God nie. Ons gedagtes is nie op Hom gefokus nie. Die Hebreeuse woord vir “gedagtes” in hierdie vers verwys nie na logiese, rasionele, probleem oplossings gedeelte van jou verstand nie. Dit verwys eerder na die verbeelding gedeelte. Dis jou verbeelding wat veroorsaak dat jy vrede verloor.
Die enigste manier om hierdie op te los is om jou gedagtes op God te fokus. Kry beheer van jou verbeelding en bring dit na God toe. Die Bybel sê, “Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” (2Korinthiërs 10:5, NLV). Bring jou bekommernisse na Hom toe in gebed, verander dan die fokus van jou aandag. Dink aan God. Steun op God, hou aan Hom vas, plaas jou vertroue op Hom. As jy doen, sal Hy jou gemoedsrus gee. En as jy gemoedsrus het, dan sal die logiese, rasionele, probleemoplossings gedeelte van jou verstand begin om helder te dink.
As jy jou gedagtes op God fokus, fokus God jou gedagtes.

No Comments