
Romeine 8:1
Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
Verbeel jou ek het jou gevra om al die slegte goed wat jy al ooit gedoen het neer te skryf op ʼn A5 grote kaartjie. Moenie bekommerd wees nie, ek gaan jou nie vra om dit te doen nie. Buitendien, as jy enigsins soos ek is, gaan ‘n A5 grote kaartjie nie naastenby groot genoeg wees nie! Maar verbeel jou net ek het. Sien nou hoe jy die kaartjie met elke sonde, elke nalatige woord, elke dom fout, alles waaroor jy skuldig voel, binne in ‘n hardeband boek sit. Maak nou die boek toe.
Kan jy nog steeds die kaartjie sien? Nee. Dis nog steeds daar, maar jy kan dit nie sien nie. Dis binne iets groters, iets beters. Die kaartjie is nog steeds daar, maar dit is binne iets anders. Dit is hoe dit is om in Christus Jesus te wees. Dit beteken dat die oomblik wat ons, ons geloof in Christus sit, die oomblik wat ons Hom vra om ons sondes te vergewe, sien God dit net nie meer nie. Ons word onskuldig verklaar. Nie dat ons nie die goed op die kaartjie gedoen het nie, maar omdat Hy kies om Jesus te sien in plaas van ons foute.
Jy dra dalk iets saam met jou waaroor jy bitter skuldig voel. Jy voel dalk dat die skuldgevoelens van God af kom om jou te herinner, of om jou te straf, vir dit wat jy gedoen het. Maar dit is eenvoudig nie die geval nie. Jesus vergewe ons sondes en vat dit weg van ons af. Toe Jesus na die kruis toe gegaan het, het Hy die prys vir ons sondes betaal, vir eens en vir altyd.
Jy hoef nie aan te hou betaal vir jou sondes deur skuldgevoelens nie. Jy hoef dit nie meer saam jou rond te dra nie. Jy hoef nie meer in skaamte te leef nie.
As jy in Christus is, is jy vergewe.

No Comments