
Lukas 6:35
Nee, julle moet ook julle vyande liefhê! Doen goed aan hulle! Leen aan hulle! En moenie bekommerd wees dat hulle julle dalk nie kan terugbetaal nie. Dan sal julle beloning in die hemel baie groot wees, en julle sal werklik optree as kinders van die Allerhoogste, want Hy is goed vir die ondankbares en slegtes. NLV
Wees lief vir jou vyande. As ons al ooit die radikale geaardheid van Jesus se boodskap gemis het, hier is dit, hard en duidelik. Jesus sê ons moet die liefhê wat ons nie lief het nie. Om die lief te hê wat ons seer gemaak het. Om daardie lief te hê wat van ons skinder. Net ‘n paar verse voor hierdie een sê Jesus, “Julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan die wat julle haat. Seën die wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak” (Lukas 6:27-28 NLV). As hierdie nie ‘n radikale leefwyse is nie, dan weet ek nie wat is nie.
Ons kry ‘n duidelike prentjie van hierdie radikale tipe liefde in Jesus se lewe. Soos Hy aan die kruis gehang het, gewond, gespot en verneder, het Jesus uitgeroep, “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34 NLV). Te midde van die pyn en lyding het Jesus liefde bewys aan sy vyande. Hy’t gebid vir hulle vergifnis. Hierdie toneel gee nie net vir ons die model om jou vyande lief te hê nie, maar dit herinner ons ook aan God se diepgaande liefde vir ons. Soos die Skrif vir ons sê, dit was toe ons self nog vyande van God was wat Christus Jesus vir ons gesterf het sodat ons met God versoen kon word (Romeine 5:10). In ‘n baie ware sin, strek Jesus se gebed vir vergifnis na ons toe, want in ons sonde staan ons saam met die beskuldigers, spotters en vervolgers.
Ons weet ons verdien nie God se guns nie, maar nogtans het Hy vrylik en volkome sy liefde en genade op ons uitgegiet. Dit is hierdie tipe liefde wat ons harte transformeer en wat ons meer soos Jesus maak, sodat ons sy radikale liefde selfs vir ons vyande kan wys, of miskien, spesiaal vir hulle.

No Comments