
2 Korinthiërs 12:9
En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. AOV
Ons almal het swakhede. Paulus gebruik ‘n metafoor om ons te herinner hoe breekbaar ons is, ” Ons het hierdie skat (van die evangelie) egter maar net in breekbare kleipotte” NLV. Soos kleipotte kraak ons onder druk, ervaar gebrokenheid en misluk partykeer heeltemal. Ongelooflik om te dink dat daar voordele in swakheid kan wees.
Daar is drie beloftes om te onthou oor swakheid:
1. God se krag is teenwoordig in jou swakheid. Moenie heeltyd jou tekortkominge weerstaan of kwalik neem nie. Paulus het in sy uitdagings die kerk se grootste leerder en sendeling geword
2. God werk deur swakheid om sy take uit te voer. Laat fisiese, emosionele, sielkundige en geestelike swakhede deel word van God se wonderlike plan met jou lewe. Party spekuleer dat Paulus se briewe nooit geskryf sou gewees het as hy nie fisiese uitdagings gehad en die tronk gesit het nie.
3. God laat toe dat tekortkominge vermomde seëninge word. Paulus gaan verder en sê: ” Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk” (2Kor 12:10 NLV). Paulus sou dalk nooit hierdie uitstekende kommunikeerder van die evangelie geword het as ander dinge sy aandag afgetrek het nie. Sy fisiese pyn het gemaak dat hy ten volle afhanklik is op God.
Jou tekortkominge is geleentheid om meer op God se beloftes te vertrou en om ‘n groter afhanklikheid op Hom te hê. Hoe meer onvoldoende jy is, hoe meer voldoende word sy genade.

No Comments