
MATTEUS 2:1-2 NLV
(1) Jesus is in die dorp Betlehem in Judea gebore tydens die regeringstyd van koning Herodes die Grote. Omstreeks daardie tyd het daar sterrekundiges uit die ooste in Jerusalem opgedaag. Hulle doen toe navraag
(2) “Waar is die pasgebore Koning van die Jode? Ons het sy ster sien verskyn en gekom om Hom te aanbid.”
MATTEUS 2:16 NLV
(16) Toe Herodes agterkom dat die sterrekundiges hom uitoorlê het, was hy siedend van woede. Hy het soldate gestuur om in en rondom Betlehem al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe te bring. Hy het die twee jaar bereken volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het.
LUKAS 2:8-14 NLV
(8) Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het.
(9) Skielik het ’n engel van die Here aan hulle verskyn en die glans van die Here het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword,
(10) maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou!
(11) Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore!
(12) En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ’n Kindjie vind wat in ’n krip lê en in doeke toegedraai is!”
(13) Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys:
(14) “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het.”
ROMEINE 15:13 AFR83
(13) Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

No Comments